Vote for Pilgrim’s Rest to become SA’s Town of the Year for 2022…
Pelgrimsrus
staan
vir dorp van die jaar
PELGRIMSRUS – Dié toeristedorpie is as Mpumalanga se finalis in die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie aangekondig.
So het die Kwêla-span die tog na Pelgrimsrus aangepak, om te sien presies wie en wat in dié geskiedkundige dorpie te vind is.
Vanes-Mari du Toit van Kwêla het op die kassie met verskeie van die dorp se sake-eienaars en inwoners gesels, wat graag oor die geskiedenis en die opknapping daarvan vertel het.
Hulle het haar gewys hoe goud gemyn word en ook gesê hoe opgewonde hulle is om die Internasionale Goudpankampioenskappe in Augustus 2023 aan te bied.
Van daar is sy na die Royal Hotel, Kuzzulos Emporium, die Pelgrimsrus Gholfklub, Johnny’s Pub en Crystal Springs Mountain Lodge toe, waar elkeen haar vertel het van hulle daaglikse bedrywighede.
Rowersgraf het ook ’n beurt gekry vir ’n besoek, waar daar vir jou én die rower ’n sjerrie gegee word.
Die trotse inwoners van “die land se enigste lewende museum” kan nie uitgepraat raak oor alles wat die dorp bied nie. Hulle sê die mense is vriendelik, die dorp is skoon en rustig, daar is sóveel geskiedenis, en die natuurskoon alleen maak dit ’n kuier werd.
Wanneer al nege finaliste (Pelgrimsrus is die sesde) op Kwêla verskyn het, sal die publiek van 18:00 op 17 Julie tot 12:00 op 22 Julie vir die wendorp kan stem. SMS die dorpsnaam na 33157 (SMS’e kos R1,50) om te stem.
Die wendorp word op 31 Julie 2022 op Kwêla aangekondig.
Dié dorp wen R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n advertensie van 45 sekondes oor die dorp maak wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook ’n groot makietie vir die wendorp gehou word – musiek, kos,
pret en sommer baie van daardie wendorpgees! Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm en dit sal later vanjaar uitgesaai word.



